Bloubul legende Oupa du Piesanie oorlede
Een van die Bloubul legendes uit die 1960’s, wat diep rugbyspore getrap het op internasionale, provinsiale en klubvlak, is vroeër vandeesweek oorlede.

Oupa du Piesanie, klipharde flank wat die Ligbloutrui van Noord-Transvaal 41 keer tussen 1961 en 1968 oor sy kop getrek het, is Dinsdagoggend op die ouderdom van 85 oorlede.
Du Piesanie word beskou as een van die mees ongelukkige spelers om nooit Springbok te word nie.
In ’n onderhoud met Rekord sowat 10 jaar gelede het dié kleurryke rugby-karakter verkies om nie te kla oor die ontwykende Springbokbaadjie in sy kas nie. Hy het homself eerder as bevoorreg beskou om in die Ligblou trui 17 keer kaptein van verskeie Springbok-sterre te kon wees.
Daarbenewens het hy tweemaal vir die Junior Springbokke uitgedraf, terwyl hy in 1966 ook saam met die Gazelle-span in Argentinië getoer het.
Dié boorling van Graaff Reinet in die Karoo het na sy skooldae eers sy BCom graad by Kovsies in Bloemfontein behaal, voordat hy by Tukkies in Pretoria sy nagraadse studies in die Ekonomie kom voortsit het.
Op 22-jarige ouderdom was hy al redelik bles toe hy in die vroeë 1960’s by Tuks se rugby-oefening aanmeld. Dit is dáároor dat ’n ou vriend van hom, Henry Steynberg, die bynaam “Oupa” uitgedink het. Sedertdien ken almal hom op dié naam.
Twee wedstryde het vir Du Piesanie uitgestaan as hoogtepunte van sy loopbaan.
Eerstens was daar die wedstryd tussen die Noordelike Universiteite en die Britse Leeus van 1962, wat met 6-elk gelykop geëindig het.
Die tweede hoogtepunt was die veelbesproke wedstryd tussen Noord-Transvaal en die Franse toerspan van 1967. Hierdie robuuste Hane was berug vir hul vuilspel. Die Noord-Transvalers onder leiding van Du Piesanie, het egter vooraf besluit om nie vuil te speel nie, maar die Fransmanne se tjank vinnig af te trap met hul ongenaakbare voorspelerspel. Toe die Hane dus een van die Ligbloues met ’n stywe arm loop, het hulle in die daaropvolgende losskrum met agt verwoede Blou Bulle te doen gekry.
Du Piesanie het vertel hoe hy op sy oudag steeds met groot genoegdoening kon terugdink aan die mag en mening waarmee hy en sy mede voorspelers die Franse daardie dag disnis gespeel het.
Die bekende prokureur en oud heelagter van Noord-Transvaal se rugbyspan, Oeloff de Meyer, het aan Rekord gesê Du Piesanie was nie net sy mentor as rugbyspeler nie, maar hy was ook van die veld af ’n briljante leier en steunpilaar vir baie spanmaats en spelers wat later sy pad gekruis het.
“Hy was intelligent en ’n reguit, eerlike man met integriteit. Hy het boonop die spel geken soos min ander, wat hom ’n skitterende keurder en afrigter gemaak het,” het De Meyer gesê.
Du Piesanie het ook van die veld af sy bydrae tot rugby gemaak, toe hy by verskeie geleenthede van die vroeë 1970’s tot in 1992 op die keurkomitee van Noord-Transvaal gedien het. Hier het hy met van die beste afrigters in die Bulle se geskiedenis saamgewerk.
Hy het ook as afrigter sy merk gemaak by die Harlequins rugbyklub, waar hy as die bekende Kitch Christie se voorganger die Carltonbekerspan gebrei het.
Na ’n lang en suksesvolle loopbaan as data-ekonoom by die Suid-Afrikaanse Reserwebank het Du Piesanie in 1999 met pensioen afgetree. Hy kon homself destyds egter nie so ver kry om stil te sit en niks te doen nie. Daarom het hy later ook betrokke geraak by ’n privaat kollege, waar hy in verskeie ekonomiese vakke klas gegee het.
Du Piesanie en sy vrou, Gerda, het uiteindelik in Groenkloof, Pretoria afgetree, nadat hulle vir baie jare in hul ruim huis in Arcadia, ’n klipgooi van Loftus Versfeld af, gewoon het. Hy word ook oorleef deur ’n seun en twee dogters, asook hul gades en sewe kleinkinders.
’n Huldigingsdiens sal op Dinsdag 22 April om 11:00 gehou word in die NG Kerk Pretoria-Oos (Die Ooskerk, langs die Afrikaanse Hoër Meisieskool).
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.